MEMORANDUM: VOORSTELLE T.O.V 'N TAALBELEID VIR U.S.
Dr Adelbert Scholtz, US Raadslid
Dr Adelbert Scholtz


1.    INLEIDING

Hierdie memorandum word  voorgelê om te help om tot 'n verantwoordelike en verantwoordbare besluit te kom met die oog op die formulering van voorstelle aan die Universiteitsraad en die Senaat ten opsigte van die toekomstige taal van onderrig aan die US.

2.    VOORSTELLE

Die volgende voorstelle word aan die Rektor se Bestuurspan en die Taalkomitee voorgelê:

1.    Die bestaande raadsbesluit, naamlik dat die vier grootste fakulteite vanaf 2010 parallelmedium-onderrig op eerstejaarsvlak aanbied, word behou en, waar moontlik, na die ander fakulteite uitgebrei om as 'n oorgangsmaatreël te dien met die oog op studente wat nie Afrikaans magtig is nie.

2.    Lesings word ooreenkomstig die tans geldende taalbeleid vanaf die tweede jaar slegs in Afrikaans aangebied – behalwe natuurlik in die lesings van die Department Moderne Vreemde Tale, die Departement Engels, die Fakulteit Krygskunde en kursusse in Bosbou. Die sogenaamde T-opsie word gevolglik uitgefaseer.

3.    Nie-Afrikaanssprekende studente moet tydens hulle eerste jaar die kursus in basiese Afrikaans wat in Januarie elke jaar aangebied word, bywoon ten einde 'n basiese vaardigheid in Afrikaans te verwerf.

4.    Nie-Afrikaanssprekende studente moet tewens tydens hulle eerste jaar 'n krediet-draende kursus in Afrikaans slaag om tot die tweede jaar toegelaat te kan word.

5.    Nie-Afrikaanssprekende dosente moet ooreenkomstig parr A2 en B3 & 4 van die Reglement re Taalvaardighede by die Aanstelling van Doserende Personeel en par 5 van die Reglement insake Vaste Aanstelling van Dosente gehelp word om binne twee jaar na hulle aanstelling Afrikaans te bemeester het. Diegene wat in gebreke bly om aan die vereistes van bovermelde reglemente te voldoen, moet dissiplinêre optrede en/of ontslag verwag.
Die motivering van hierdie voorstelle word hier onder gegee by wyse van kommentaar op aanhalings uit verskeie dokumente (amptelik en nie-amptelik) wat aan die Bestuurspan en die Taalkomitee bekend behoort te wees:

3.    DIE WAARDES VAN DIE UNIVERSITEIT STELLENBOSCH

Die US huldig die volgende waardes soos verwoord in sy STRATEGIESE RAAMWERK VIR DIE EEUWISSELING EN DAARNA:
•  Billikheid (Equity). Billikheid in die sin van, onder meer, die totstandbrenging van ’n korps van uitmuntende studente, dosente en administratiewe personeel wat demografies meer verteenwoordigend is van die Suid-Afrikaanse samelewing moet ten grondslag lê aan al ons aksies, waaronder regstelling van die ongelykhede van die verlede en ons herposisionering van die Universiteit vir die toekoms.
•  Deelnemendheid . Die mense wat wesenlik geraak word deur ons besluite, moet effektiewe inspraak in die neem van dié besluite hê.
•  Deursigtigheid . Ons moet ons besluite neem op grond van oorwegings wat duidelik is en bekend is.
•  Diensbaarheid . Ons moet, in alles wat ons doen, diensbaar wees aan die breë gemeenskappe van ons onmiddellike omgewing, van ons streek, van ons land, van ons vaste land en van die wêreld in die algemeen.
•  Verdraagsaamheid en onderlinge respek. Ons moet respek hê vir die verskille tussen persoonlike oortuigings, tussen sienswyses en tussen kulturele uitdrukkingsvorme. Ons moet strewe om ’n institusionele kultuur uit te bou wat verdraagsaamheid en respek jeens fundamentele menseregte in die hand werk en wat ’n gepaste omgewing vir onderrig, leer en navorsing skep.
•  Toewyding . Ons stel prys op toewyding aan werk en op die doelgerigte verwesenliking van selfgestelde oogmerke.
•  Wetenskaplikheid . Ons navorsing, onderrig, gemeenskapsdiens en bestuur moet gekenmerk word deur die soort objektiwiteit en kritiese denke wat eie is aan uitmuntende wetenskapsbeoefening.
•  Verantwoordelikheid . Ons poog om verantwoordelik te wees, sowel deur ernstig ag te slaan op die implikasies van optrede, as deur responsief te wees teenoor die behoeftes van die breër gemeenskap, van Suid-Afrika in sy geheel, van ons vasteland en van die wêreld in die algemeen.
•  Akademiese Vryheid. As ’n verantwoordbare openbare hoër onderwysinstelling,
(i)    erken ons, op institusionele, fakultêre en departementele vlak, ons reg om in onderrig en leer, in navorsing en in gemeenskapsdiens ons akademiese vryheid op verantwoordelike wyse uit te oefen, en      
(ii)     verwerp ons onredelike beperkings van watter aard ook al op ons strewes."
Kommentaar :
In die lig van hierdie waardes van die US sal enige toekomstige besluite van die Universiteitsraad en die Senaat ten opsigte van die taal van onderrig moet voldoen aan die waardes van veral billikheid, deelnemendheid, deursigtigheid, diensbaarheid, wetenskaplikheid, verantwoordelikheid en akademiese vryheid.
Billikheid :    Die belange van al die gemeenskappe in die onmiddellike omgewing van Stellenbosch, asook verder weg, moet gedien word. In hierdie opsig het die US 'n groot verantwoordelikheid teenoor veral die bruin (Afrikaanssprekende) gemeenskappe in die Wes-Kaap.

Deelnemendheid :    Die onlangse besluit van die Studenteraad (sien hier onder) kan nie buite rekening gelaat word nie. Net so kan die bevindinge van die Schlemmer-verslag van April 2008 (sien hier onder) ook nie geïgnoreer word nie, naamlik dat 'n groot meerderheid onder die studente onderrig in Afrikaans verlang.

Deursigtigheid :    Die hele proses om oor die US se toekomstige taalgebruik te besluit, moet op so 'n wyse onderneem word dat niemand agterna met die verwyt kan kom dat dit op 'n onderduimse wyse geskied het nie. Die debat in die brieweblad van Die Burger wat al jare lank aanhou, word dikwels op 'n erg emosionele wyse gevoer en enige sweem van geheimhouding sal die beeld van die US slegs nog meer skade aandoen.

Wetenskaplikheid :    Die Schlemmer-verslag van 2008 (sien hier onder) kan nie metodologies gekritiseer word nie, behalwe vir die feit dat 'n verdere statistiese verwerking van die rou data miskien moontlik sou kon gewees het. Hierdie verslag met sy aanbevelings wat deur 'n erkende sosiale wetenskaplike opgestel is en wat deur die US aangevra is, behoort as die basis van alle verdere beplanning op taalgebied te dien.

Diensbaarheid :    Die behoeftes en nood van veral die agtergeblewe gemeenskappe in die Wes-Kaap, wat hoofsaaklik Afrikaanssprekend is, mag nooit uit die oog verloor word nie.

Akademiese vryheid :    Die reg op akademiese vryheid word deur die Grondwet van die RSA gewaarborg [art 16(1)(d)]. Dit beteken onder andere dat die US hom in sy besluitneming slegs deur wetenskaplike en etiese oorwegings moet laat lei – nie deur politieke ideologieë nie. In die brieweblaaie van die pers word die US deesdae dikwels van "politieke gedienstigheid" beskuldig. Ek stem nie met hierdie kritiek saam nie en ek aanvaar die goeie trou van die lede van die Rektor se Bestuurspan, die Taalkomitee en die Universiteitsraad, maar dit is nogtans nodig dat hierdie waarde ook steeds in gedagte gehou word, aangesien die versoeking inderdaad bestaan om aan politieke druk toe te gee – soos ongelukkig al voorheen in die geskiedenis van die US gebeur het.
4.    STATISTIEKE

Tydens die Arabella-byeenkoms van die Universiteitsraad in Februarie 2009 het meer as een spreker dit beklemtoon dat die US nie besig is om te verengels nie. Mnr Jannie Mouton het egter tydens die raadsvergadering van 4 Mei 2009 op grond van amptelike syfers die bewering gemaak dat die US onteenseglik besig is om te verengels en die Raad moes hom noodgedwonge stilswyend gelyk gee. Niemand het hom immers probeer weerspreek nie.

Uit bronne wat op die US se webtuiste beskikbaar is en statistieke wat tydens die jongste raadsvergadering vrygestel is, blyk die volgende:
  •  In 2002 was 25,6% van die studente aan die US Engelssprekend.
  •  In 2007 was 35,1% van die studente aan die US Engelssprekend.
  •  In 2008 was 35.6% van die studente aan die US Engelssprekend.
Dit is dus onteenseglik so dat die persentasie Engelssprekende studente aan die US stelselmatig besig is om groter te word. Die US is dus sekerlik in hierdie opsig aan die verengels – soos die Raad stilswyend moes toegee.

Die redes vir hierdie toedrag van sake word in die Schlemmer-verslag (hier onder) gevind. Dit is uit hierdie verslag duidelik dat hierdie Engelssprekende studente nie almal noodwendig in Engels onderrig wil word nie, maar dat die US se Afrikaanse karakter vir hulle aanloklik is.

Tydens die raadsvergadering in Mei 2009 het prof Hermann Giliomee met syfers aangetoon dat die aantal modules wat in Afrikaans aangebied word, stelselmatig besig is om minder te word. Niemand het hom ook weerspreek nie.

In die Schlemmer-verslag word 'n soortgelyke bevinding gemaak:
" Tans kan die Universiteit nie sondermeer as ʼn basies Afrikaanstalige instelling beskou word nie. Onder die vorige rektor is ʼn proses van taalaanpassing versnel deurdat die beleid aangepas is sodat fakulteite aan departemente vergunning kon verleen om keuses uit te oefen tussen drie onderrig-opsies, ʼn Afrikaanse opsie, die opsie van klasse in Engels of die sogenaamde T-Opsie waarvolgens klasse in altwee tale aangebied kan word, met afwisseling van Afrikaans en Engels in dieselfde lesing." (p 9)
Tydens die vorige raadsvergadering het prof Giliomee die belangrike vraag gestel: Is dit wat die Raad werklik verlang? Is hierdie tendens van verengelsing goed vir die US?

5.    DIE SCHLEMMER-VERSLAG

Die bevindinge en aanbevelings in die Schlemmer-verslag van April 2008 kan nie geïgnoreer word nie:

Ten opsigte van die sogenaamde T-opsie skryf Schlemmer:
"Die grootste probleem is egter dat dit voorkom asof ‘n beduidende proporsie van die studente, en veral studente van minderbevoorregte agtergronde, probleme met hierdie Opsie ervaar in die sin dat die afwisseling van tale hulle konsentrasie verbreek, dat die herhaling van inhoud waardevolle tyd in beslag neem wat beter benut kan word en dat ʼn beduidende minderheid van hierdie studente voel dat die Opsie hulle akademiese prestasies negatief beïnvloed ." (p 7)
Schlemmer maak die volgende aanbeveling:
Afrikaans as die primêre taal, met deeglike toevoegings in Engels. Hierdie benadering is die gewildste onder die keuses wat die studente in die opname oorweeg het en dit is inderdaad een wat by die rol en roeping van US sou pas. (p 8)

Aan die einde van sy verslag beveel Schlemmer aan dat Afrikaans as "primêre taal met ruim voorsiening aan nie-Afrikaanssprekendes" behoue moet bly. Hy voeg by:

"Die een [werklikheid wat in ag geneem moet word,] is die feit dat in die hele Wes Kaap, die provinsie met die grootste getal Afrikaanssprekendes, daar geen ander Afrikaanstalige tersiêre instelling meer oor is wat Afrikaans as letterkundige, akademiese en vakkundige medium kan beskerm nie. Hierdie werklikheid, en ook die grondwetlike ruimte vir Afrikaans, plaas kragtige morele druk op die US om Afrikaans as leidende taal te behou.

’n Tweede is die bevinding dat so baie van die Engelssprekende studente wat die US bywoon en in die toekoms sal wil bywoon in ’n beduidende mate deur die sg. Afrikaanse akademiese kultuur aangetrokke voel, al kla ’n minderheid van hul taalgenote juis oor die oorwegend Afrikaanse klimaat.

’n Derde, miskien die belangrikste, is dat die opname-resultate die sterk aanduiding gee dat baie van die Afrikaanstalige en dubbeltalige studente uit swakker skole in die provinsie juis akademiese bemagtiging in Afrikaans verlang en nodig het.  Die US is die enigste instelling wat hierdie transformasietaak in Afrikaans kan uitvoer.

’n Vierde faktor is dat die beginsel van Afrikaans as leidende taal, met sterk toevoegings en/of addisionele lesings in Engels, die gewildste oplossings is wat in die opname-resultate verskyn. Daar is waarskynlik ’n 10% tot 20% minderheid onder die nie-tweetalige studente wat dit as Afrikaanse dominasie sal bejeën maar die ondersteuning van die meerderheid is sterk.

In die lig van hierdie werklikhede, is die mees realistiese beleid een wat onbeskroomd Afrikaans as primêre onderrigtaal neem en die volle, konkrete implikasies aan studente en dosente deeglik uitspel.

Die impak van hierdie benadering op nie-Afrikaanssprekende studente wat minder tweetalig is kan deur die volgende versag word:
•    Baie effektiewe taalkursusse vir minder tweetalige dosente en voorgraadse studente. Vir die studente sal sulke kursusse sover moontlik kredietdraend binne hulle studieprogramme moet wees.
•    Kredietdraende taalkursusse sal veral belangrik wees om meer minder bevoorregte Afrikataalsprekende studente van 'township' skole te lok en te akkommodeer. Hierdie studente is tans ’n te klein minderheid op US. 
•    Die wyer gebruik van nagraadse studente om addisionele studieklasse in Engels aan te bied, by tye om tolkdienste te verrig en om as Engelstalige mentors die nie-tweetalige studente te begelei. 
•    ’n Proporsie van  voorgraadse modules wat wel in Engelsmedium aangebied kan word, veral waar nie-Afrikaanssprekende dosente skaars kennisvelde of tegnieke aanbied." (pp 62 – 64).

Kommentaar:
Daar moet met prof Schlemmer saamgestem word dat die US die morele plig het om Afrikaans te beskerm. Daar is vier universiteite in die Wes-Kaap waarvan drie slegs Engels as onderrigtaal gebruik (sien hier onder). Ongeveer 60% van die Wes-Kaap se bevolking is Afrikaanssprekend en daar moet vir hulle voorsiening gemaak word.

Die US trek ook 'n aansienlike aantal studente uit die Noord-Kaap (in 2008 was dit 3% van die studentekorps), 'n provinsie waar die Afrikaanssprekendes ook verreweg in die meerderheid is en waar daar geen universiteit bestaan nie. In die Oos-Kaap, waarvandaan 5,8% van die studente in 2008 gekom het, is daar nie een universiteit waar studente in Afrikaans onderrig kan word nie. Uit Natal – waar daar ook nie 'n Afrikaanstalige universiteit is nie – het 4,1% van die US se studente in 2008 gekom. In die lig van die Schlemmer-verslag kan aanvaar word dat die meeste van hierdie na Stellenbosch gekom het juis vanweë die feit dat hulle onderrig in Afrikaans verlang.

Indien die US verder sou verengels, sou die Afrikaanssprekende studente nie langer hulle reg op moedertaal-onderrig kan uitoefen nie [vgl art 29(2) van die Grondwet van die RSA]. Die US het veral 'n morele plig om tersiêre onderrig vir bruin Afrikaanssprekendes uit arm gemeenskappe moontlik te maak. Studente wat per se onderrig in Engels verlang, het 'n keuse van drie ander universiteite in die Wes-Kaap. Indien die US se primêre onderrigtaal Afrikaans sou bly, ooreenkomstig bovermelde voorstelle, sou dit nie hierdie studente van tersiêre onderrig uitsluit nie.

Schlemmer het bevind dat baie van die Engelssprekende studente aan die US juis hierheen gekom het vanweë die Afrikaanse karakter van die inrigting. Hierdie Afrikaanse karakter mag dus nie verdwyn nie. Hy het ook bevind dat die oorgrote meerderheid onder studente onderrig in Afrikaans verkies.

In die lig van Schlemmer se bevindinge is enige moontlike planne om parallelmedium-onderrig na die tweede jaar en derde jaar uit te brei, nie verantwoordbaar nie. Ek steun Schlemmer se gedagte dat krediet-draende kursusse in Afrikaans verpligtend vir nie-Afrikaanssprekende student gemaak behoort te word en dat nie-Afrikaanssprekende dosente gehelp moet word om Afrikaans te bemeester.

Dit blyk ook verder dat Schlemmer bevind het dat die T-opsie nie verantwoordbaar is nie en onpopulêr is. Die huidige kansellier van ons universiteit, dr Frederik van Zyl Slabbert, het in 'n artikel wat destyds wyd aandag getrek het, eweneens tot die slotsom gekom dat die T-opsie aan die US "doodgewoon pedagogiese onsin" is (Rapport, 7 Mei 2006).

6.    BESLUIT VAN DIE STUDENTERAAD

Die Studenteraad het op 4 Mei 2009 soos volg besluit –
Die US Studenteraad steun nie die Raadsbesluit om parallel-medium onderrig met die daaropvolgende dubbelmedium implikasies in die ekstra 4 fakulteite te implementer nie. Die volgende hoofredes, word aangevoer
o    Bekommernis oor die praktiese uitvoerbaarheid en finansiële implikasie daarvan
o    Die moontlikheid dat segregasie bevorder kan word hierdeur.
o    en dat navorsingstyd van dosente hierdeur ingeboet sal word.
Daarom stel ons voor dat ander opsies dringend ondersoek moet word .”
In 'n gepaardgaande verklaring het die Studenteraad onder andere gesê:
"Die Studenteraad van die Universiteit Stellenbosch is ten gunste van ‘n taalmodel vir die Universiteit wat nie segregasie in klasse bevorder nie,  nie omvangryke finansiële implikasies inhou of kosbare navorsingstyd van akademici in beslag neem nie en ook nie eksklusief Afrikaans is nie.  Die SR is daarom ten gunste van die ondersoek van moontlikhede soos die wyer gebruik van tolkdienste  en ander tegnologie om lesings meer toeganklik vir nie-Afrikaanssprekende studente te maak. (….)
Mnr. Retief Swart, voorsitter van die SR, het gesê dat die SR hom opnuut verbind tot die bevordering van Afrikaans as akademiese taal. "
Kommentaar:

Die US se waarde van "deelnemendheid" (sien hier bo) noop hom om van die Studenteraad se standpunt kennis te neem en dit ernstig in oorweging te neem.

7.    LEOPOLD SCHOLTZ SE ARTIKEL IN DIE BURGER, 8 MEI 2009

Dr Leopold Scholtz is Media24 se verteenwoordiger in Europa en ook buitengewone professor in Geskiedenis aan die US.

In sy weeklikse rubriek op 8 Mei 2009 in Die Burger, Sake van die Dag, het hy aangetoon dat die universiteite van Barcelona en Quebec, in streke waar die minderheidstale Katalaans en Frans gepraat word, eentalig Katalaans en Frans is en dat dit van alle studente aldaar – ook buitelanders – verwag word om hierdie tale te bemeester. Net so verwag universiteite in alle Europese lande dat studente in staat moet wees om lesings in Duits, Frans, Nederlands ensovoorts te kan volg. [Die skrywer van hierdie memorandum is self oud-student van die Universiteite van Leiden en Tübingen wat albei eentalige inrigtings is en wat van alle studente verwag om Nederlands en Duits vlot te kan praat.]

Scholtz vra dan ten slotte:
"Dit is blykbaar net Stellenbosch en Potchefstroom vir wie dié wêreldwyd aanvaarbare beleid nié mag geld nie. Waar is die logika? Het iemand ’n antwoord? Die ergste is dat die grootste vyande van Afrikaans dikwels juis Afrikaanssprekendes is!"   
8.    DIE US SE TAALBELEID

Die US se taalbeleid bepaal onder andere:
2.     Beginselstandpunte
4.     "Die Taalbeleid neem die waardes en uitgangspunte wat in die Strategiese Raamwerk van die Universiteit beskryf word in ag.
5.     Die Universiteit erken die besondere status van Afrikaans as ’n akademiese taal en aanvaar die verantwoordelikheid om Afrikaans as akademiese taal te bevorder."
Kommentaar:

Die waardes van die US is alreeds hierbo aangehaal en bespreek. Die Taalbeleid stel dit pertinent as 'n beginselstandpunt dat hierdie waardes geeërbiedig moet word.

Die US het verder die verantwoordelikheid aanvaar om Afrikaans as akademiese taal te bevorder. Dit kan kwalik geskied in 'n omgewing waar Afrikaans die gevaar loop om deur Engels oorskadu en verswelg te word, soos in Pretoria en Bloemfontein gebeur het.

4.     Bepalings van die Taalbeleid
"Die Taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch word in die volgende bepalings saamgevat:
   
    1.         Die voorgraadse leer- en onderrigtaal van die Universiteit is by verstek* Afrikaans.
   
    2.         Engels word in besondere omstandighede as voorgraadse leer- en
              onderrigtaal gebruik.
* Stellings 1 en 2 beteken dat, tensy anders bepaal word, die A-taalspesifikasie van die Taalplan outomaties vir alle voorgraadse modules geld. In voorgraadse modules word daar slegs na oorweging van deeglike motivering van hierdie verstekposisie afgewyk.        
3.     In nagraadse leer en onderrig word sowel Afrikaans as Engels gebruik.

4.     Studente se akademiese geletterdheid in Afrikaans en Engels word stelselmatig ontwikkel.

5.         Die institusionele taal van die Universiteit is by verstek Afrikaans."
Kommentaar:

Die bewoording van hierdie paragrawe behoort duidelik genoeg te wees. Enige planne om dubbelmedium-onderrig by alle jaargange op voorgraadse vlak in te voer, is in stryd met hierdie beleidspunte en is gevolglik by voorbaat ultra vires. Engels mag slegs "na oorweging van deeglike motivering" op voorgraadse vlak gebruik word. In die lig van die Schlemmer-verslag is dit duidelik dat geen sodanige motivering meer kan bestaan nie.

Dit is ook duidelik dat dit aanvaarde beleid is om studente te help om Afrikaans (en Engels) aan te leer, waar hulle kennis van hierdie taal/tale ontoereikend blyk te wees – soos aan die begin van hierdie memorandum voorgestel word.

9.    DIE US SE PERSONEELBELEID

Die US se personeelbeleid bepaal onder andere die volgende:
REGLEMENT INSAKE VASTE AANSTELLING VAN DOSENTE
'n Dosent word vir 'n proeftermyn van twee jaar aangestel, waarna hy/sy vas aangestel kan word. (….) Die volgende werkwyse sal met ingang 1 Januarie 2000 gevolg word met betrekking tot die vaste aanstelling van dosente:

5.     Dat by die prestasiebeoordeling van ‘n dosent, taalvaardigheid ook in aanmerking geneem sal word. Sien in hierdie verband die dokument getiteld “Taalvaardighede by die Aanstelling van Doserende Personeel” ….

TAALVAARDIGHEDE BY DIE AANSTELLING VAN DOSERENDE
PERSONEEL
A.     KERNBEGINSELS:
Die hantering van taalvaardighede by die aanstelling van doserende personeel geskied aan die hand van die volgende kernbeginsels:

1.     Dat die Taalbeleid en Gedragskode vir Taal in die Klaskamer met integriteit toegepas behoort te word.

2.     Dat die minimum reseptiewe vaardighede soos in B3 hieronder aangedui ten opsigte van Afrikaans en Engels vir alle nuwe aanstellings geld.

B.     GEDRAGSKODE VIR TAAL IN DIE KLASKAMER:
3.    Wat betref dosente se verpligtinge om werkopdragte, toetse en vraestelle in Afrikaans en Engels op te stel en te assesseer, word daar verwag dat hulle binne twee jaar na diensaanvaarding, genoeg reseptiewe vaardighede (luister en lees) in Afrikaans en Engels sal ontwikkel om klasbesprekings te volg, opdragte en eksamenvrae in albei tale op te stel, en die antwoorde van studente in albei tale te verstaan. Dit moet hulle ook in staat stel om oor die ekwivalensie van vertalings te oordeel en antwoorde in Afrikaans en Engels regverdig te beoordeel.

4.     Dosente het ook die verantwoordelikheid om:
(….)

4.5     voldoende taalvaardigheid te ontwikkel om werkopdragte, toetse en eksamens in Afrikaans en Engels te kan nasien.



Kommentaar:

Die opsteller van hierdie memorandum het by drie geleenthede getrag om inligting te bekom aangaande die taalvaardighede van nie-Afrikaanssprekende dosente – egter sonder sukses (sien hier onder). Dit is nietemin duidelik dat dit van alle dosente aan die US verwag word om ook in Afrikaans te kan kommunikeer. Of hierdie beleid inderdaad uitgevoer word en nuwe dosente se dienste na 'n proeftermyn van twee jaar beeïndig word as hulle nie Afrikaans magtig is nie, is vrae waarop antwoorde nog gevind moet word.

10.    ANDER SUID-AFRIKAANSE UNIVERSITEITE


Dit is belangrik om aandag aan volgende aanhalings uit die taalbeleid van die belangrikste Suid-Afrikaanse universiteite te gee, ten einde te bepaal waar die US in verhouding met die res van die land staan:

Universiteit Kaapstad
"English is both the medium of teaching and of examination except in language and literature departments where another language is taught and may be used.  This applies at all levels, and to dissertations and theses for higher degrees.  (….)

"All applicants, whether at undergraduate or postgraduate level, must have attained a certain level of proficiency in English and must be required to submit evidence of this as part of their application to study, as outlined below."
Universiteit van die Witwatersrand
"English will remain the only medium of instruction at the University, until such time as it can be used together with Sesotho. Academic, administrative and support staff will be supported in acquiring the level of English competence they need to succeed in their jobs and students will be supported in acquiring the level of English competence they need to succeed in their studies and the world of work."
Rhodes Universiteit
"The language of teaching and learning at Rhodes University is English.
"The University language policy accordingly presents strategies for:
•    promoting proficiency in English, its designated language of teaching and learning
•    recognising and advancing the academic viability and status of the three major languages of the Eastern Cape Province: isiXhosa, Afrikaans and English."

Universiteit van Kwazulu Natal

"The University will continue to use English as its primary academic language but will activate the development and use of isiZulu as an additional medium of instruction together with the resources (academic and social) that make the use of the language a real possibility for interaction by all constituencies in the University.
"3.1     The University acknowledges the position of English as the dominant language of instruction and believes it will be necessary to work with the status quo while developing isiZulu for use in all higher education functions."


Universiteit van Wes-Kaapland
"English, Afrikaans and Xhosa should be used wherever it is practicable to do so.

Languages used in writing tasks, assignments, tests and examinations
Unless otherwise negotiated between a student or a class and a lecturer, the language in which tasks, assignments, tests and examinations should be completed shall be English.

Languages in which texts are available
Regarding the languages in which texts are available, efforts should be made to provide alternatives and options in Afrikaans, English and Xhosa wherever it is practicable and academically desirable to do so."
Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit
•    While English is an international language of communication in science and in business, and is the preferred medium of teaching, learning and assessment in most qualifications (with the exception of language and literature departments where other languages are studied), it is the primary language of not more than one third of the NMMU’s students.

•    Whereas it is a major objective to ensure optimal access to language-mediated knowledge, two avenues to achieve this objective need to be pursued:

(i)     Effective literacy in English, by means of which all students should acquire the ability to communicate through the spoken and written word in a variety of contexts - academic, social, and in their future careers in this language; and
(ii)     Optimum use of students’ primary language (if not English) to ensure cognitive assimilation into the university sphere of knowledge acquisition.

These two aims should be pursued through an appropriate programme of language development based on additive multilingualism.

•    Where assessment is conducted in English, allowances may be made for English second language (see Glossary) and English foreign language students.
Universiteit van Johannesburg
2.1     "The University of Johannesburg promotes multilingualism and designates Sepedi, English, isiZulu and Afrikaans as its primary languages for academic, administrative, communication and marketing purposes.

2.3     "The University strives towards the progressive provision of teaching, learning and assessment in isiZulu, English, Afrikaans and Sepedi insofar as it is reasonably practicable to do so."
Universiteit van Pretoria
"2.1.     In die bedryf van sy kernfunksies sal die Universiteit twee amptelike tale gebruik, naamlik Afrikaans en Engels.    

2.2.    Opleidingsprogramme kan óf in Afrikaans óf in Engels aangebied word, of in beide hierdie tale indien daar 'n aanvraag is na opleiding in die betrokke taal/tale en dat sodanige programme akademies en ekonomies lewensvatbaar is.

2.3.    Afrikaans en Engels moet as akademiese tale gebruik en ontwikkel word om sodoende uitnemendheid in akademiese kommunikasie te bewerkstellig."    
Universiteit van die Vrystaat
"Die taalbeleid van die UV neem in ag dat die Regering se Taalbeleid vir Hoër Onderwys van November 2002 o.m. die volgende bepaal:

•    dat Afrikaans en Engels tans en vir die voorsienbare toekoms die dominante tale van onderrig in hoër onderwys is en sal wees. (….)

"Verder word bepaal dat onderrig op parallelmediumbasis in Afrikaans en Engels aangebied word, terwyl die behoefte om Sesotho as wetenskapstaal te bevorder in ag geneem word sover dit redelikerwys uitvoerbaar is."
Noordwes-Universiteit
•    "Afrikaans en Engels word as primêre onderrigtale by die NWU gebruik en deur voortdurende aksienavorsing word bepaal watter bydrae gelewer kan word tot die ontwikkeling van die Streeksafrikatale as hoëronderwystale.

•    Verskillende taalafleweringsmodusse word op die onderskeie kampusse aangewend om verhoging en fasilitering van toegang tot hoër onderwys te bewerkstellig, onder andere enkelmediumonderrig, parallel- en dubbelmedium en ook klaskamertolkdienste. Die uitbreiding van tolkdienste na verdere onderrigprogramme geskied aan die hand van ʼn onderhandelde stel standaarde en prosedures.

•    Die Taaldirektoraat, in oorleg met die onderskeie kampusbesture tree as aanmeldings- en bemiddelingspunt op wanneer taalregte geskend word of vir die voorkoming van die skending van taalregte.

•    Dit bly die verantwoordelikheid van die onderskeie kampusbesture om die onderrigtaalbeleidsbeginsels telkens in ʼn haalbare en meetbare kampustaalplan om te skakel, te onderhandel en die implementering hiervan te bestuur."
Kommentaar:

Die Universiteit Kaapstad, die Universiteit van die Witwatersrand, die Universiteit van Kwazulu Natal, die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit en Rhodes Universiteit is almal eentalig Engels, alhoewel sommige van hulle die gebruik van sekere inheemse tale en Afrikaans wil aanmoedig.

Die UWK is in teorie drietalig, maar in die praktyk word slegs Engels in die onderig-situasie gebruik. Die Universiteit van Johannesburg – voorheen die Randse Afrikaanse Universiteit – is offisieel viertalig. In die praktyk kom dit egter daarop neer dat Engels dominant is en dat Afrikaans grotendeels verdwyn het.

Die Universiteit van die Vrystaat en die Universiteit van Pretoria – albei voorheen Afrikaanstalige universiteite – is tans amptelik tweetalig. In die praktyk kom dit daarop neer dat Engels voorrang geniet en Afrikaans stelselmatig al hoe meer afgeskeep word. Indien die US ook hierdie opsie sou kies, sal presies dieselfde gebeur.

Die Noordwes-Universiteit is meertalig – wel met die voorsiening dat die verskillende kampusse eentalig kan wees. Dit bring mee dat voorgraadse kursusse op die Potchefstroomse kampus in Afrikaans aangebied word.

Indien die US tweetalig sou word – wat in die praktyk daarop neerkom dat Engels die botoon voer – sal daar slegs een enkele Afrikaanssprekende universiteitskampus in die hele Suid-Afrika oorbly, naamlik Potchefstroom. Is dit wat die US verlang? Is dit wat die US se klandisie (sy studente) verlang?

11.    DIE WET OP HOËR ONDERWYS

Die Wet op Hoër Onderwys, no 101 van 1997 (soos gewysig), bepaal soos volg:

27.     Raad van openbare inrigting vir hoër onderwys

(2)     Behoudens die beleid deur die Minister vasgestel, moet die raad, met die instemming van die senaat, die taalbeleid van 'n openbare inrigting vir hoër onderwys bepaal, publiseer en op versoek beskikbaar stel.

37.     Toelating tot openbare inrigtings vir hoër onderwys

(1)     Behoudens hierdie Wet bepaal die raad van 'n openbare inrigting vir hoër onderwys, na oorleg met die senaat van die openbare inrigting vir hoër onderwys, die toelatingsbeleid van die openbare inrigting vir hoër onderwys.
(2)     (…)
(3)     Die toelatingsbeleid van 'n openbare inrigting vir hoër onderwys moet voorsiening maak vir geskikte maatreëls vir die regstel van ongelykhede van die verlede en mag nie op enige wyse onbillik diskrimineer nie.
(4)     Behoudens hierdie Wet kan die raad, met die goedkeuring van die senaat –
(a)     toelatingsvereistes ten opsigte van bepaalde programme vir hoër onderwys bepaal;
(b)     (…)
(c)     die minimum vereistes vir hertoelating tot studie aan die betrokke openbare inrigting vir hoër onderwys bepaal;

Kommentaar:


Daar is geen wetlike bepaling wat 'n universiteit verbied om eentalig te wees nie. Om hierdie rede is ten minste ses Suid-Afrikaanse universiteite eentalig Engels (sien hier bo), alhoewel sommige van hulle ook trag om Afrikaans en sekere inheemse tale te bevorder. Die bevordering van hierdie tale beteken egter nog nie noodwendig dat hulle enigsins as onderrigtale benut word nie. Indien die US (ooreenkomstig sy Taalbeleid) aanhou om Afrikaans as voorgraadse onderrigtaal by verstek te gebruik, is daar niks wat hom dwing om daarvan af te wyk en tweetalig te word nie.

Daar kan bygevoeg word dat daar ook geen wetlike bepaling is wat die universiteit dwing om sekere rasse-kwotas in te stel nie. Al wat verlang word, is dat daar nie teen (voornemende) studente gediskrimineer word nie en dat die ongelykhede van die verlede reggestel moet word. Daarbenewens mag die universiteit ook sekere toelatingsvereistes ten opsigte van taalvaardighede aan voornemende studente stel – soos inderdaad onder andere by die Universiteit van Kaapstad die geval is. Die US het dus die volste reg om van voornemende studente te verwag om lesings in Afrikaans te kan volg voordat hulle toegelaat word.

12.    DIE SKRYWER SE ERVARING

Die skrywer van hierdie memorandum het die ondervinding dat die taalbeleid van die US deur talle personeellede geïgnoreer word.

Op 24 November 2008 het ek aan die registrateur geskryf en gevra vir statistieke aangaande die aantal nie-Afrikaanssprekende dosente wat nie in staat is om lesings in Afrikaans aan te bied nie en hoedanig daar opgetree word teen diegene wat nie binne twee jaar Afrikaans aangeleer het nie. Die registrateur het belowe om die navraag na die relevante afdeling deur te gee. Ten spyte van twee verdere skrywes tydens Februarie en April 2009 is nog geen reaksie ontvang nie.

Ek het tydens 2008 verskeie werkswinkels vir doserende personeel bygewoon en almal is sonder uitsondering in Engels aangebied.

Tydens April het ek 'n uitnodiging ontvang om 'n konferensie by die Teologiese Fakulteit by te woon – slegs in Engels. Eers nadat ek geprotesteer het, het die aanbieder van die konferensie, prof Dirkie Smit, in Afrikaans apologie daarvoor aangeteken. Dit blyk egter dat hierdie konferensie slegs in Engels aangebied sal word.

Tydens die Arabella-byeenkoms van die Raad in Februarie 2009 het een van die aanwesige dosente plegtig belowe dat Stellenbosch nie aan die verengels is nie. Twee weke later het ek na sy professorale intreerede gaan luister – wat uitsluitlik in Engels gelewer is!

13.    SLOTSOM

Indien die US sou kies om op voorgraadse vlak tweetalig te word, sal dit onvermydelik daartoe lei dat Afrikaans verdwyn, soos in Pretoria en Bloemfontein gebeur het – ten spyte van al die mooiklinkende versekerings tot die teendeel. So 'n ontwikkeling sal 'n bespotting van die bestaande taalbeleid en die waardes van die universiteit maak. Die allerlaaste ding waarvan die US sekerlik beskuldig wil word, is morele bankrotskap!

Tydens die Arabella-byeenkoms is die belofte deur die Bestuur aan die Raad gegee dat die US nie sal verengels nie en dat Afrikaanssprekende studente se reg om in hulle moedertaal onderrig te word, gewaarborg word. Hierdie waarborg beteken weinig indien daar van die US 'n tweetalige universiteit gemaak word. Indien die US sy waardes van verantwoordelikheid, diensbaarheid, wetenskaplikheid en deursigtigheid ernstig opneem, sal die posisie van Afrikaans beter verskans moet word as wat tans die geval is.

Dit sal verder nodig wees dat die uitvoering van die US se taalbeleid en taalplan deur doserende personeel gemonitor word en dat die nodige begeleiding verskaf word of dat desnoods dissiplinêre maatreëls toegepas word in gevalle waar dit nie nagekom word nie. Daar is inderdaad tekens dat sekere personeellede hulle nie aan die goedgekeurde taalbeleid steur nie en aktief die verengelsing van die US bevorder of dit passief toelaat. Afgesien daarvan dat hulle hulle diensooreenkomste met die universiteit op hierdie wyse geweld aandoen, is hulle optrede ook nie eties-verantwoordbaar nie.

Daar is geen wetlike bepalinge, kulturele oorweginge of wetenskaplike gronde wat die US verhinder om Afrikaans as primêre taal van onderrig te behou en van voornemende studente te verwag om in staat te wees om onderrig in Afrikaans te ontvang nie. Die US het die morele plig, asook die wetlike ruimte, om 'n grotendeels eentalige universiteit vir veral Afrikaanssprekendes te wees – ook vir nie-Afrikaanssprekendes wat wens om hulle akademiese skoling deur middel van Afrikaans te ontvang.

Dr Adelbert Scholtz
16 Mei 2009