|
MEMORANDUM: VOORSTELLE T.O.V 'N TAALBELEID VIR U.S.
![]() Dr Adelbert Scholtz
2. VOORSTELLE 1. Die bestaande raadsbesluit, naamlik dat die vier grootste fakulteite vanaf 2010 parallelmedium-onderrig op eerstejaarsvlak aanbied, word behou en, waar moontlik, na die ander fakulteite uitgebrei om as 'n oorgangsmaatreël te dien met die oog op studente wat nie Afrikaans magtig is nie.Die motivering van hierdie voorstelle word hier onder gegee by wyse van kommentaar op aanhalings uit verskeie dokumente (amptelik en nie-amptelik) wat aan die Bestuurspan en die Taalkomitee bekend behoort te wees: 3. DIE WAARDES VAN DIE UNIVERSITEIT STELLENBOSCH Die US huldig die volgende waardes soos verwoord in sy STRATEGIESE RAAMWERK VIR DIE EEUWISSELING EN DAARNA: • Billikheid (Equity). Billikheid in die sin van, onder meer, die totstandbrenging van ’n korps van uitmuntende studente, dosente en administratiewe personeel wat demografies meer verteenwoordigend is van die Suid-Afrikaanse samelewing moet ten grondslag lê aan al ons aksies, waaronder regstelling van die ongelykhede van die verlede en ons herposisionering van die Universiteit vir die toekoms.Kommentaar : In die lig van hierdie waardes van die US sal enige toekomstige besluite van die Universiteitsraad en die Senaat ten opsigte van die taal van onderrig moet voldoen aan die waardes van veral billikheid, deelnemendheid, deursigtigheid, diensbaarheid, wetenskaplikheid, verantwoordelikheid en akademiese vryheid. Billikheid : Die belange van al die gemeenskappe in die onmiddellike omgewing van Stellenbosch, asook verder weg, moet gedien word. In hierdie opsig het die US 'n groot verantwoordelikheid teenoor veral die bruin (Afrikaanssprekende) gemeenskappe in die Wes-Kaap.4. STATISTIEKE Tydens die Arabella-byeenkoms van die Universiteitsraad in Februarie 2009 het meer as een spreker dit beklemtoon dat die US nie besig is om te verengels nie. Mnr Jannie Mouton het egter tydens die raadsvergadering van 4 Mei 2009 op grond van amptelike syfers die bewering gemaak dat die US onteenseglik besig is om te verengels en die Raad moes hom noodgedwonge stilswyend gelyk gee. Niemand het hom immers probeer weerspreek nie. Uit bronne wat op die US se webtuiste beskikbaar is en statistieke wat tydens die jongste raadsvergadering vrygestel is, blyk die volgende: Dit is dus onteenseglik so dat die persentasie Engelssprekende studente aan die US stelselmatig besig is om groter te word. Die US is dus sekerlik in hierdie opsig aan die verengels – soos die Raad stilswyend moes toegee. Die redes vir hierdie toedrag van sake word in die Schlemmer-verslag (hier onder) gevind. Dit is uit hierdie verslag duidelik dat hierdie Engelssprekende studente nie almal noodwendig in Engels onderrig wil word nie, maar dat die US se Afrikaanse karakter vir hulle aanloklik is. Tydens die raadsvergadering in Mei 2009 het prof Hermann Giliomee met syfers aangetoon dat die aantal modules wat in Afrikaans aangebied word, stelselmatig besig is om minder te word. Niemand het hom ook weerspreek nie. In die Schlemmer-verslag word 'n soortgelyke bevinding gemaak: " Tans kan die Universiteit nie sondermeer as ʼn basies Afrikaanstalige instelling beskou word nie. Onder die vorige rektor is ʼn proses van taalaanpassing versnel deurdat die beleid aangepas is sodat fakulteite aan departemente vergunning kon verleen om keuses uit te oefen tussen drie onderrig-opsies, ʼn Afrikaanse opsie, die opsie van klasse in Engels of die sogenaamde T-Opsie waarvolgens klasse in altwee tale aangebied kan word, met afwisseling van Afrikaans en Engels in dieselfde lesing." (p 9)Tydens die vorige raadsvergadering het prof Giliomee die belangrike vraag gestel: Is dit wat die Raad werklik verlang? Is hierdie tendens van verengelsing goed vir die US? 5. DIE SCHLEMMER-VERSLAG Die bevindinge en aanbevelings in die Schlemmer-verslag van April 2008 kan nie geïgnoreer word nie: Ten opsigte van die sogenaamde T-opsie skryf Schlemmer: "Die grootste probleem is egter dat dit voorkom asof ‘n beduidende proporsie van die studente, en veral studente van minderbevoorregte agtergronde, probleme met hierdie Opsie ervaar in die sin dat die afwisseling van tale hulle konsentrasie verbreek, dat die herhaling van inhoud waardevolle tyd in beslag neem wat beter benut kan word en dat ʼn beduidende minderheid van hierdie studente voel dat die Opsie hulle akademiese prestasies negatief beïnvloed ." (p 7)Schlemmer maak die volgende aanbeveling: Afrikaans as die primêre taal, met deeglike toevoegings in Engels. Hierdie benadering is die gewildste onder die keuses wat die studente in die opname oorweeg het en dit is inderdaad een wat by die rol en roeping van US sou pas. (p 8)Kommentaar: Daar moet met prof Schlemmer saamgestem word dat die US die morele plig het om Afrikaans te beskerm. Daar is vier universiteite in die Wes-Kaap waarvan drie slegs Engels as onderrigtaal gebruik (sien hier onder). Ongeveer 60% van die Wes-Kaap se bevolking is Afrikaanssprekend en daar moet vir hulle voorsiening gemaak word. Die US trek ook 'n aansienlike aantal studente uit die Noord-Kaap (in 2008 was dit 3% van die studentekorps), 'n provinsie waar die Afrikaanssprekendes ook verreweg in die meerderheid is en waar daar geen universiteit bestaan nie. In die Oos-Kaap, waarvandaan 5,8% van die studente in 2008 gekom het, is daar nie een universiteit waar studente in Afrikaans onderrig kan word nie. Uit Natal – waar daar ook nie 'n Afrikaanstalige universiteit is nie – het 4,1% van die US se studente in 2008 gekom. In die lig van die Schlemmer-verslag kan aanvaar word dat die meeste van hierdie na Stellenbosch gekom het juis vanweë die feit dat hulle onderrig in Afrikaans verlang. Indien die US verder sou verengels, sou die Afrikaanssprekende studente nie langer hulle reg op moedertaal-onderrig kan uitoefen nie [vgl art 29(2) van die Grondwet van die RSA]. Die US het veral 'n morele plig om tersiêre onderrig vir bruin Afrikaanssprekendes uit arm gemeenskappe moontlik te maak. Studente wat per se onderrig in Engels verlang, het 'n keuse van drie ander universiteite in die Wes-Kaap. Indien die US se primêre onderrigtaal Afrikaans sou bly, ooreenkomstig bovermelde voorstelle, sou dit nie hierdie studente van tersiêre onderrig uitsluit nie. Schlemmer het bevind dat baie van die Engelssprekende studente aan die US juis hierheen gekom het vanweë die Afrikaanse karakter van die inrigting. Hierdie Afrikaanse karakter mag dus nie verdwyn nie. Hy het ook bevind dat die oorgrote meerderheid onder studente onderrig in Afrikaans verkies. In die lig van Schlemmer se bevindinge is enige moontlike planne om parallelmedium-onderrig na die tweede jaar en derde jaar uit te brei, nie verantwoordbaar nie. Ek steun Schlemmer se gedagte dat krediet-draende kursusse in Afrikaans verpligtend vir nie-Afrikaanssprekende student gemaak behoort te word en dat nie-Afrikaanssprekende dosente gehelp moet word om Afrikaans te bemeester. Dit blyk ook verder dat Schlemmer bevind het dat die T-opsie nie verantwoordbaar is nie en onpopulêr is. Die huidige kansellier van ons universiteit, dr Frederik van Zyl Slabbert, het in 'n artikel wat destyds wyd aandag getrek het, eweneens tot die slotsom gekom dat die T-opsie aan die US "doodgewoon pedagogiese onsin" is (Rapport, 7 Mei 2006). 6. BESLUIT VAN DIE STUDENTERAAD Die Studenteraad het op 4 Mei 2009 soos volg besluit – “Die US Studenteraad steun nie die Raadsbesluit om parallel-medium onderrig met die daaropvolgende dubbelmedium implikasies in die ekstra 4 fakulteite te implementer nie. Die volgende hoofredes, word aangevoerIn 'n gepaardgaande verklaring het die Studenteraad onder andere gesê: "Die Studenteraad van die Universiteit Stellenbosch is ten gunste van ‘n taalmodel vir die Universiteit wat nie segregasie in klasse bevorder nie, nie omvangryke finansiële implikasies inhou of kosbare navorsingstyd van akademici in beslag neem nie en ook nie eksklusief Afrikaans is nie. Die SR is daarom ten gunste van die ondersoek van moontlikhede soos die wyer gebruik van tolkdienste en ander tegnologie om lesings meer toeganklik vir nie-Afrikaanssprekende studente te maak. (….)Kommentaar: Die US se waarde van "deelnemendheid" (sien hier bo) noop hom om van die Studenteraad se standpunt kennis te neem en dit ernstig in oorweging te neem. 7. LEOPOLD SCHOLTZ SE ARTIKEL IN DIE BURGER, 8 MEI 2009 Dr Leopold Scholtz is Media24 se verteenwoordiger in Europa en ook buitengewone professor in Geskiedenis aan die US. In sy weeklikse rubriek op 8 Mei 2009 in Die Burger, Sake van die Dag, het hy aangetoon dat die universiteite van Barcelona en Quebec, in streke waar die minderheidstale Katalaans en Frans gepraat word, eentalig Katalaans en Frans is en dat dit van alle studente aldaar – ook buitelanders – verwag word om hierdie tale te bemeester. Net so verwag universiteite in alle Europese lande dat studente in staat moet wees om lesings in Duits, Frans, Nederlands ensovoorts te kan volg. [Die skrywer van hierdie memorandum is self oud-student van die Universiteite van Leiden en Tübingen wat albei eentalige inrigtings is en wat van alle studente verwag om Nederlands en Duits vlot te kan praat.] Scholtz vra dan ten slotte: "Dit is blykbaar net Stellenbosch en Potchefstroom vir wie dié wêreldwyd aanvaarbare beleid nié mag geld nie. Waar is die logika? Het iemand ’n antwoord? Die ergste is dat die grootste vyande van Afrikaans dikwels juis Afrikaanssprekendes is!"8. DIE US SE TAALBELEID Die US se taalbeleid bepaal onder andere: 2. BeginselstandpunteKommentaar: Die waardes van die US is alreeds hierbo aangehaal en bespreek. Die Taalbeleid stel dit pertinent as 'n beginselstandpunt dat hierdie waardes geeërbiedig moet word. Die US het verder die verantwoordelikheid aanvaar om Afrikaans as akademiese taal te bevorder. Dit kan kwalik geskied in 'n omgewing waar Afrikaans die gevaar loop om deur Engels oorskadu en verswelg te word, soos in Pretoria en Bloemfontein gebeur het. 4. Bepalings van die Taalbeleid "Die Taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch word in die volgende bepalings saamgevat:Kommentaar: Die bewoording van hierdie paragrawe behoort duidelik genoeg te wees. Enige planne om dubbelmedium-onderrig by alle jaargange op voorgraadse vlak in te voer, is in stryd met hierdie beleidspunte en is gevolglik by voorbaat ultra vires. Engels mag slegs "na oorweging van deeglike motivering" op voorgraadse vlak gebruik word. In die lig van die Schlemmer-verslag is dit duidelik dat geen sodanige motivering meer kan bestaan nie. Dit is ook duidelik dat dit aanvaarde beleid is om studente te help om Afrikaans (en Engels) aan te leer, waar hulle kennis van hierdie taal/tale ontoereikend blyk te wees – soos aan die begin van hierdie memorandum voorgestel word. 9. DIE US SE PERSONEELBELEID Die US se personeelbeleid bepaal onder andere die volgende: REGLEMENT INSAKE VASTE AANSTELLING VAN DOSENTE Kommentaar: Die opsteller van hierdie memorandum het by drie geleenthede getrag om inligting te bekom aangaande die taalvaardighede van nie-Afrikaanssprekende dosente – egter sonder sukses (sien hier onder). Dit is nietemin duidelik dat dit van alle dosente aan die US verwag word om ook in Afrikaans te kan kommunikeer. Of hierdie beleid inderdaad uitgevoer word en nuwe dosente se dienste na 'n proeftermyn van twee jaar beeïndig word as hulle nie Afrikaans magtig is nie, is vrae waarop antwoorde nog gevind moet word. 10. ANDER SUID-AFRIKAANSE UNIVERSITEITE Dit is belangrik om aandag aan volgende aanhalings uit die taalbeleid van die belangrikste Suid-Afrikaanse universiteite te gee, ten einde te bepaal waar die US in verhouding met die res van die land staan: Universiteit Kaapstad "English is both the medium of teaching and of examination except in language and literature departments where another language is taught and may be used. This applies at all levels, and to dissertations and theses for higher degrees. (….)Universiteit van die Witwatersrand "English will remain the only medium of instruction at the University, until such time as it can be used together with Sesotho. Academic, administrative and support staff will be supported in acquiring the level of English competence they need to succeed in their jobs and students will be supported in acquiring the level of English competence they need to succeed in their studies and the world of work."Rhodes Universiteit "The language of teaching and learning at Rhodes University is English. Universiteit van Kwazulu Natal "The University will continue to use English as its primary academic language but will activate the development and use of isiZulu as an additional medium of instruction together with the resources (academic and social) that make the use of the language a real possibility for interaction by all constituencies in the University. Universiteit van Wes-Kaapland "English, Afrikaans and Xhosa should be used wherever it is practicable to do so.Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit • While English is an international language of communication in science and in business, and is the preferred medium of teaching, learning and assessment in most qualifications (with the exception of language and literature departments where other languages are studied), it is the primary language of not more than one third of the NMMU’s students.Universiteit van Johannesburg 2.1 "The University of Johannesburg promotes multilingualism and designates Sepedi, English, isiZulu and Afrikaans as its primary languages for academic, administrative, communication and marketing purposes.Universiteit van Pretoria "2.1. In die bedryf van sy kernfunksies sal die Universiteit twee amptelike tale gebruik, naamlik Afrikaans en Engels.Universiteit van die Vrystaat "Die taalbeleid van die UV neem in ag dat die Regering se Taalbeleid vir Hoër Onderwys van November 2002 o.m. die volgende bepaal:Noordwes-Universiteit • "Afrikaans en Engels word as primêre onderrigtale by die NWU gebruik en deur voortdurende aksienavorsing word bepaal watter bydrae gelewer kan word tot die ontwikkeling van die Streeksafrikatale as hoëronderwystale.Kommentaar: Die Universiteit Kaapstad, die Universiteit van die Witwatersrand, die Universiteit van Kwazulu Natal, die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit en Rhodes Universiteit is almal eentalig Engels, alhoewel sommige van hulle die gebruik van sekere inheemse tale en Afrikaans wil aanmoedig. Die UWK is in teorie drietalig, maar in die praktyk word slegs Engels in die onderig-situasie gebruik. Die Universiteit van Johannesburg – voorheen die Randse Afrikaanse Universiteit – is offisieel viertalig. In die praktyk kom dit egter daarop neer dat Engels dominant is en dat Afrikaans grotendeels verdwyn het. Die Universiteit van die Vrystaat en die Universiteit van Pretoria – albei voorheen Afrikaanstalige universiteite – is tans amptelik tweetalig. In die praktyk kom dit daarop neer dat Engels voorrang geniet en Afrikaans stelselmatig al hoe meer afgeskeep word. Indien die US ook hierdie opsie sou kies, sal presies dieselfde gebeur. Die Noordwes-Universiteit is meertalig – wel met die voorsiening dat die verskillende kampusse eentalig kan wees. Dit bring mee dat voorgraadse kursusse op die Potchefstroomse kampus in Afrikaans aangebied word. Indien die US tweetalig sou word – wat in die praktyk daarop neerkom dat Engels die botoon voer – sal daar slegs een enkele Afrikaanssprekende universiteitskampus in die hele Suid-Afrika oorbly, naamlik Potchefstroom. Is dit wat die US verlang? Is dit wat die US se klandisie (sy studente) verlang? 11. DIE WET OP HOËR ONDERWYS Die Wet op Hoër Onderwys, no 101 van 1997 (soos gewysig), bepaal soos volg: 27. Raad van openbare inrigting vir hoër onderwysKommentaar: Daar is geen wetlike bepaling wat 'n universiteit verbied om eentalig te wees nie. Om hierdie rede is ten minste ses Suid-Afrikaanse universiteite eentalig Engels (sien hier bo), alhoewel sommige van hulle ook trag om Afrikaans en sekere inheemse tale te bevorder. Die bevordering van hierdie tale beteken egter nog nie noodwendig dat hulle enigsins as onderrigtale benut word nie. Indien die US (ooreenkomstig sy Taalbeleid) aanhou om Afrikaans as voorgraadse onderrigtaal by verstek te gebruik, is daar niks wat hom dwing om daarvan af te wyk en tweetalig te word nie. Daar kan bygevoeg word dat daar ook geen wetlike bepaling is wat die universiteit dwing om sekere rasse-kwotas in te stel nie. Al wat verlang word, is dat daar nie teen (voornemende) studente gediskrimineer word nie en dat die ongelykhede van die verlede reggestel moet word. Daarbenewens mag die universiteit ook sekere toelatingsvereistes ten opsigte van taalvaardighede aan voornemende studente stel – soos inderdaad onder andere by die Universiteit van Kaapstad die geval is. Die US het dus die volste reg om van voornemende studente te verwag om lesings in Afrikaans te kan volg voordat hulle toegelaat word. 12. DIE SKRYWER SE ERVARING Die skrywer van hierdie memorandum het die ondervinding dat die taalbeleid van die US deur talle personeellede geïgnoreer word. Op 24 November 2008 het ek aan die registrateur geskryf en gevra vir statistieke aangaande die aantal nie-Afrikaanssprekende dosente wat nie in staat is om lesings in Afrikaans aan te bied nie en hoedanig daar opgetree word teen diegene wat nie binne twee jaar Afrikaans aangeleer het nie. Die registrateur het belowe om die navraag na die relevante afdeling deur te gee. Ten spyte van twee verdere skrywes tydens Februarie en April 2009 is nog geen reaksie ontvang nie. Ek het tydens 2008 verskeie werkswinkels vir doserende personeel bygewoon en almal is sonder uitsondering in Engels aangebied. Tydens April het ek 'n uitnodiging ontvang om 'n konferensie by die Teologiese Fakulteit by te woon – slegs in Engels. Eers nadat ek geprotesteer het, het die aanbieder van die konferensie, prof Dirkie Smit, in Afrikaans apologie daarvoor aangeteken. Dit blyk egter dat hierdie konferensie slegs in Engels aangebied sal word. Tydens die Arabella-byeenkoms van die Raad in Februarie 2009 het een van die aanwesige dosente plegtig belowe dat Stellenbosch nie aan die verengels is nie. Twee weke later het ek na sy professorale intreerede gaan luister – wat uitsluitlik in Engels gelewer is! 13. SLOTSOM Indien die US sou kies om op voorgraadse vlak tweetalig te word, sal dit onvermydelik daartoe lei dat Afrikaans verdwyn, soos in Pretoria en Bloemfontein gebeur het – ten spyte van al die mooiklinkende versekerings tot die teendeel. So 'n ontwikkeling sal 'n bespotting van die bestaande taalbeleid en die waardes van die universiteit maak. Die allerlaaste ding waarvan die US sekerlik beskuldig wil word, is morele bankrotskap! Tydens die Arabella-byeenkoms is die belofte deur die Bestuur aan die Raad gegee dat die US nie sal verengels nie en dat Afrikaanssprekende studente se reg om in hulle moedertaal onderrig te word, gewaarborg word. Hierdie waarborg beteken weinig indien daar van die US 'n tweetalige universiteit gemaak word. Indien die US sy waardes van verantwoordelikheid, diensbaarheid, wetenskaplikheid en deursigtigheid ernstig opneem, sal die posisie van Afrikaans beter verskans moet word as wat tans die geval is. Dit sal verder nodig wees dat die uitvoering van die US se taalbeleid en taalplan deur doserende personeel gemonitor word en dat die nodige begeleiding verskaf word of dat desnoods dissiplinêre maatreëls toegepas word in gevalle waar dit nie nagekom word nie. Daar is inderdaad tekens dat sekere personeellede hulle nie aan die goedgekeurde taalbeleid steur nie en aktief die verengelsing van die US bevorder of dit passief toelaat. Afgesien daarvan dat hulle hulle diensooreenkomste met die universiteit op hierdie wyse geweld aandoen, is hulle optrede ook nie eties-verantwoordbaar nie. Daar is geen wetlike bepalinge, kulturele oorweginge of wetenskaplike gronde wat die US verhinder om Afrikaans as primêre taal van onderrig te behou en van voornemende studente te verwag om in staat te wees om onderrig in Afrikaans te ontvang nie. Die US het die morele plig, asook die wetlike ruimte, om 'n grotendeels eentalige universiteit vir veral Afrikaanssprekendes te wees – ook vir nie-Afrikaanssprekendes wat wens om hulle akademiese skoling deur middel van Afrikaans te ontvang. Dr Adelbert Scholtz 16 Mei 2009 |