Wat sê navorsing oor die taaldebat?

Kathleen Heugh konstateer in 2007 (26): Tot op datum onderskryf geen greintjie geloofwaardige wetenskaplike navorsing die flou redes wat aangevoer word vir ‘n gebrek aan die behoorlike, gesonde voorsiening van moedertaalonderrig tesame met verrykende tweedetaalonderrig in Suid-Afrika nie. [My vertaling, my kursief.]
Daarenteen bestaan daar robuuste internasionale navorsing wat die belangrikheid van moedertaalonderrig beklemtoon, ook op tersiêre vlak. Kernbegrippe van belang vir die taaldebat rondom die Universiteit van Stellenbosch is die volgende: die onderskeid tussen “BICS” en “CALP”, die onderskeid tussen verrykende en verskralende tweetaligheid, en die gevolge van taaldominansie.
1 Wat is “BICS” en “CALP”?
UNESCO (2009) propageer moedertaal-gebaseerde onderrig, op grond van omvattende navorsing wêreldwyd wat die kritieke belang daarvan onderskryf. Reeds in 1979 het Cummins twee belangrike relevante sleutelbegrippe geïdentifiseer. In Engels word dit verkort tot BICS en CALP. Die eerste verwys na “ Basic Interpersonal Communication Skills”, dws alledaagse sosiale kommunikasie-vaardighede; die tweede verwys na “Cognitive Academic Language Proficiency”, dws kognitiewe akademiese taalvaardigheid. Die eerste begrip dui op ‘n relatief lae vlak van taalvermoë, hoofsaaklik gerig op konkrete sake. Die tweede dui op die bemeestering van ingewikkelde, dikwels abstrakte konsepte en ‘n woordeskat toepaslik vir diepgaande analitiese en beredenerende diskoers.
‘n Persoon wat die eerste vlak bereik het, en gemaklik kan gesels in die onderhawige taal, is nie noodwendig taalvaardig genoeg om die tweede vlak van diskoers te kan hanteer nie. ‘n Afrikaanse student wat Engels op die gespreksvlak gemaklik bemmeester het, maar nog nie akademiese taalvaardigheid in Engels ontwikkel het nie, word dus benadeel deur die aanwending van Engels vir tersiêre studie. Die omgekeerde is ook waar, maar vir Engelssprekendes is daar drie ander inrigtings in die Wes-Kaap waar hulle bepaald nie gekonfronteer gaan word deur ‘n oorwegend Afrikaanse aanbod nie.
1.1 Hoe toepaslik is hierdie navorsing?
Cummins se aanvanklike navorsing het gegaan oor jong Finse immigrantekinders wat in Swede moes aanpas. Hierdie kinders het dikwels Sweeds vlot leer praat, maar by toetsing was die vlak van hulle akademiese vermoëns in Sweeds beduidend swakker as dié van hul Sweedse medeleerlinge. Die BICS/CALP model het ‘n verklaring vir dié verskynsel gebied: die Finse kinders het aansienlik langer tyd nodig gehad om akademiese taalvaardigheid aan te leer as om bloot te leer gesels. Ook was dit nodig dat hulle moeilike begrippe eers in hul moedertaal bemeester; Krashen (1997: 1) bevestig dit: “Literacy developed in the primary language transfers to the second language”.
Sedertdien is soortgelyke navorsing oor ‘n tydperk van meer as drie dekades uitgevoer in verskillende lande en in verskillende leeromgewings (Cummins 2003), en dit kan goedskiks toegepas word op tersiêre studie.
Cummins wys daarop dat bepaalde leertake op kontinua geplaas kan word tussen kognitief veeleisend tot nie veeleisend nie, en konteks-arm tot konteks-ryk. Lg take is bv take waar die student toegang het tot verskeie visuele en ouditiewe leidrade, soos illustrasies of die geleentheid om vrae te stel. Wanneer ‘n taak sowel kognitief veeleisend as konteks-arm is, soos in ‘n lesing oor moeilike abstrakte begrippe, is dit erg nadelig vir studente om in ‘n tweede taal onderrig te word.
Die navorsing is dus toepaslik op tersiêre gebied, en direk van toepassing op die sitausie by die US.
1.2 Watter teoretiese begronding bied die verengelsers aan?
Soos Heugh hierbo noem, bestaan daar geen oortuigende navorsing om verengelsing te rugsteun nie. Diegene wat dit voorstaan, of erger, oogluikend toelaat onder die dekmantel van ‘n positiewe houding jeens Afrikaans, verswyg bg navorsing, want hulle kan niks aanbied om dit teen te staan nie.
Die verskynsel van “code-switching” by studente, dws ‘n maklike heen-en-weer-skakeling tussen tale op gespreksvlak, is al voorgehou as regverdiging vir die T-opsie. “Code-switching” op geselsvlak is egter ‘n laevlakse taalverskynsel en geen bewys van die vermoë om op die tweede (akademiese en abstrakte) vlak beide tale te gebruik nie. Slegs taalvaardigheidstoetse op ‘n toepaslike vlak sou so ‘n vermoë kan bevestig.
Die uitkomste van die T-opsie is ook nie by die US onderwerp aan ‘n wetenskaplike studie nie. Ondanks ‘n opdrag aan die Fakulteit LSW om die T-opsie eksperimenteel te bedryf vir dire jaar, is daar nog geen ondersoek met 1) duidelike navorsingsvrae, 2) ‘n behoorlike literatuurstudie, 3) ‘n toepaslike metodologie, 4) betroubare toetsinstrumente, en 5) volledige verslagdoening en analise uitgevoer nie.
Ontdaan aan wetenskaplike gronde, gebruik verengelsers gereeld argumentum ad hominem. Die persoon wat pro-Afrikaans is, word aangeval en getipeer as ‘n rassis (asof geen bruin of swart studente Afrikaans is nie), as grypend terug na ‘n verlore politieke heimat (maar wit Engelse studente is al wat meer word onder die T-opsie aanbod) en les bes, sukkelend met pasaangeërs en dus nie in staat tot helder denke nie.
2. Wat beteken verrykende tweetaligheid?
Die ideaal van tweetaligheid word voorgehou as ‘n rede vir die invoer van dubbelmedium-onderrig. Heugh, hierbo aangehaal, verwys na die onderskeid tussen verrykende (additive) en verskralende ( subtractive) tweetaligheid. Tale is geen neutrale instrumente nie. Verrykende tweetaligheid verwys na die situasie waar die moedertaal steeds gehandhaaf word en waar die kultuur waarvan dit ‘n draer is, steeds geag word. Ngetu (2007: 74) beklemtoon dat “respect and empowerment” ervaar word deur die gebruik van ‘n moedertaal. Verskralende tweetaligheid beteken dat die tweede taal toegevoeg word ten koste van die moedertaal en dat die kultuur waarvan dit ‘n draer is, minderwaardig geag word. (Concise Oxford Dictionary of Linguistics 2009.)
2.1 Waardes word aan tale toegesê
In Suid-Afrika is die status van al die amptelike tale baie ver van gelyk. Ngubane (2007: 43) wys daarop dat tale draers word van bepaalde waardes wat simbolies daaraan toegesê word, en dat politieke diskoers uiters negatief inwerk op ‘n omgewing wat probeer om veeltaligheid te bevorder. Hy noem as voorbeelde [my vertaling]:
Engels = ontwikkeling en bemagtiging
Afrikaans = rassisme en onderdrukking
Inheemse tale = onderontwikkeling, agterlikheid.
Hierdie assosiasies, sê Ngubane, het tot gevolg dat Engels voorgehou word as onontbeerlik vir ekonomiese en politieke vooruitgang; Engels oefen tans in die praktyk landwyd in Suid-Afrika ‘n hegemonie uit, sodat die res van die landstale implisiet en eksplisiet as minderwaardig afgemaak word.
Ngubane se observasies oor waardes wat aan tale geheg word, word duidelik geïllustreer deur persone wat beweer dat die US vinnig Engels moet word omdat Afrikaans kwansuis tot ‘n onbenullige parogiale instelling sal lei.
Vreemd dat die universiteite van Barcelona en Quebec, in streke waar onderskeidelik die minderheidstale Katalaans en Frans gepraat word, geen sulke vrese het nie. Volgens Scholtz (2009) is hierdie inrigtings eentalig Katalaans en Frans, en dit word van alle studente aldaar – ook buitelanders – verwag om hierdie tale te bemeester. So ook verwag universiteite in alle Europese lande dat studente in staat moet wees om lesings in Duits, Frans, Nederlands ensovoorts te kan volg.
2.2 Hoe verrykend is tweetaligheid op Stellenbosch?
Om verrykend te wees, moet taaltoevoeging die moedertaal eerstens verskans. Amptelike statistiek uit die universiteit se rekords toon dat Engels toeneem, in terme van studentegetalle asook aanbod van kursusse. Voorts is sg dubbelmedium of T-opsieklasse meer Engels as Afrikaans, en selfs in klasse wat veronderstel is om volledig Afr te wees, word Engels in die praktyk gepraat. (Kyk verskeie briewe van studente en ouers in Die Burger, wat hieroor kla sonder enige reaksie van die US se bestuur.) Geensins ’n additiewe milieu nie.
Die volgende e-pos, gerig aan ‘n dosent aan die US deur ‘n student, waarvan skrywer ‘n afskrif ontvang het, illustreer die situasie waarmee studente gekonfronteer word:
“In die jaarboek word daar aangedui dat die module in die T-opsie aangebied word. Dit, en help my as ek verkeerd is, beteken onder andere, as ek die jaarboek mag aanhaal, dat “onderrig is vir ten minste 50% van die tyd in Afrikaans” (bl.8). Ek sal verbaas wees, indien ek ‘n stophorlosie klas toe neem en die nodige berekeninge maak, as daar meer as 5% van die lesing in Afrikaans onderrig word.
"U maak gebruik van die verweer dat “ons almal” tweetalig is. Maar wat bedoel u egter met “tweetalig,” want dit is ‘n relatiewe konsep? Meeste van ons, indien nie almal nie, kan seker in basiese Engels kommunikeer – korrek, en in daai sin is ons “tweetalig”. Maar ek kan u verseker dat daar baie studente in hierdie klas sit wat nie so lekker u Engelse lesing volg nie. Dit is een ding om in basiese Engels te kan kommunikeer, dit is heeltemal ‘n ander ding om akademiese Engels te probeer verstaan en in deel te neem. In hierdie sin, is ons almal definitief nie “tweetalig” nie. U, m.a.w., benadeel die deursnit student aan die Universiteit van Stellenbosch, wat gekom het na hierdie instelling met die verwagting en voorbereiding dat hy/sy sy/haar tersiêre opvoeding in sy/haar moedertaal sou ontvang.”
Klaarblyklik dra hierdie dosent geen kennis van die BICS/CALP onderskeid nie, en dis ‘n duidelike voorbeeld van verskralende tweetaligheid.
Voorstaanders van verengelsing maak veel gewag van Afr “in ‘n veeltalige milieu”. Hierdie begrip word nooit gedefinieer nie. Die realiteit is dat daar slegs drie moontlike modelle vir onderrig is, nl moedertaal, dubbelmedium, en parallel. Geen klaskamer of lesingsaal is ‘n veeltalige milieu nie.
In die werklikheid word Engels op Stellenbosch dominant, en sprekers van ander tale word onderwerp aan ‘n neerbuigende en ontmagtigende gedwonge tweetaligheid, wat verskralend van aard is, dus allermins verrykende tweetaligheid.
3. Wat is die gevolge van taaldominansie?
Die sosiolinguis Jean Laponce (2002) het deur navorsing aangetoon dat dubbelmedium- én parallelmedium-onderrig onvermydelik lei tot die verplasing van ‘n minderheidstaal deur ‘n dominante taal. Hierdie verskynsel is bv in Kanada ervaar. Om Engels en Afrikaans in een klas of kursus aan te wend, het dus die ironiese gevolg dat eentaligheid in die hand gewerk word. Engels neem oor.
Ten spyte van ondernemings deur die bestuur, neem Engels op die Stellenbosch kampus algemeen toe ten koste van Afrikaanssprekendes van alle rasse wat ontmagtig word omdat hulle nie kan studeer in die taal waarin hulle akademiese begrippe en inhoud ten beste kan bemeester nie. Feit is, in 1990 kon studente nog bykans alle modules in Afrikaans bestudeer. Die huidige situasie is dat slegs 640 modules uit 1601 (voorgraads) in Afrikaans aangebied word; 625 is tans dubbelmedium en 336 word deur medium Engels aangebied. Dat dubbelmedium in die praktyk neig tot algeheel Engels, word wyd ervaar. By die Tygerbergse kampus loop studente bv uit klasse uit wanneer Afrikaans gebruik word.
Dit is uiters misleidend om voor te gee dat tweetaligheid (of selfs veeltaligheid) nagestreef word, terwyl onderrigsituasies geskep word wat noodwendig tot eentaligheid gaan lei.
‘n Gevaarlike gaping
Feit is dat daar by die US ‘n gaping bestaan tussen welluidende missiestellings en sussende gerusstellings aan die een kant, en sowel dosente as studente se ervaring op voetsoolvlak aan die ander kant. Een voorbeeld: die taalbeleid gee die versekering dat geen student ‘n vetoreg oor die gebruik van Engels sal hê nie. Die optrede van personeel druis egter lynreg hierteen in. Pas (Le Roux: 2009) gebeur dit dat ‘n paar studente daarteen beswaarmaak dat ‘n spreker by ‘n studenteberaad sy voorbereide toespraak in Afrikaans lewer. Die studentedekaan, wat hierdie vetoreg volgens verklaarde beleid behoort teen te staan, gee opdrag dat die spreker moet oorslaan na Engels. Die US-mediawoordvoerder, wat die dekaan behoort te herinner aan die US-taalbeleid, maak slegs verskoning dat hy self kort tevore Afrikaans gepraat het. Die twee personeellede oefen self ‘n vetoreg uit. Klinkklare bewys van Heugh (2007: 24) se stelling dat besluitnemers oor die algemeen lippetaal wy aan sentimente ten gunste van minderheidstaalregte, maar steeds voortdurend ontsnaproetes vind wanneer dit kom by toepaslike beleid en implementering [my vertaling]. Ook was hierdie episode administratiefregtelik verdag. Maar dit ontlok geen teregwysende optrede van bestuurskant af nie.
Die bewyse dat Engels by die US domineer, is onontkombaar. Dit is gevaarlik. Van der Rheede (2007: 55) waarsku dat ‘n glybaan na eentaligheid “inderdaad strydig [is] met die letter en gees van ons Grondwet. Wees verseker: hef aan lê nog voor.”
Bronne
Concise Oxford Dictionary of Linguistics. 2009 online
Cummins, J. 1979. Cognitive/academic language proficiency, linguistic interdependence, the optimum age question and some other matters. Working Papers on Bilingualism, No. 19
Cummins, J. 2003. Bilingual Children's Mother Tongue: Why Is It Important for Eucation? i teach i learn.com
Proceedings of the Symposium on Multilingualism in South Africa, edited by Du Toit, JB & HC Viljoen. 2007. . iMag & Tabema: Stellenbosch
Heugh, K. 2007. Linguistic diversity and the resource vs human rights conundrum. In Proceedings of the Symposium on Multilingualism in South Africa, edited by JB du Toit & HC Viljoen. iMag & Tabema: Stellenbosch 2007.
Krashen, S. 1997. Why Bilingual Education? ERIC Digest
Laponce, JA. 2002. Minority languages and globalization. Lecture presented at French; Political Science Association meeting, Lille
Le Roux, P. Brief in Die Burger 6 Mei 2009.
Ngetu, B. 2007. A voice from Isolezwe. In Proceedings of the Symposium on Multilingualism in South Africa, edited by JB du Toit & HC Viljoen. iMag & Tabema: Stellenbosch: 74-75
Ngubane, S. 2007. Response to “Multilingualism in a Globalized Society: Today and Tomorrow”. In Proceedings of the Symposium on Multilingualism in South Africa, edited by JB du Toit & HC Viljoen. iMag & Tabema: Stellenbosch: 2007.
Scholtz, Leopold. 8 Mei 2009 Die Burger, Sake van die Dag
UNESCO 2009 Education website
Van der Rheede, CO. 2007. Veeltaligheid in Suid-Afrika: Waarom die stryd? In Proceedings of the Symposium on Multilingualism in South Africa, edited by JB du Toit & HC Viljoen. iMag & Tabema: Stellenbosch: 50-55