|
'N GRONDWETLIKE REG EN 'N MORELE PLIG
Dr Marié Heese Bepaalde syferfeite asook optredes van US personeel in die openbaar dui egter aan dat daar ‘n disjunksie bestaan tussen die geldende missie en taalbeleid, en werklike taalimplementering. Twee voorbeelde: 1) Die A-opsie, wat prioriteit moet geniet, word uitgerangeer. Vandag word net 640 uit 1601 modules in Afrikaans aangebied, 625 in dubbelmedium en 336 in Engels. 2) Op 10 Mei nooi die studente-organisasie Adam Tas vir Piet le Roux uit om ‘n toespraak te kom lewer by ‘n studenteberaad. Engelse studente maak beswaar teen sy gebruik van Afrikaans. Die Studentedekaan gee opdrag dat Le Roux terstond moet oorskakel na Engels. Le Roux gaan voort in Afrikaans en word doodgeskree. Die US woordvoerder teenwoordig vra om verskoning dat hy self vroeër Afrikaans gepraat het. Nie alleen oefen die studente ‘n vetoreg uit nie, die US personeellede doen dit self. Dat beleidsriglyne geïgnoreer word, is strydig met die Raad en Rektoraat se gesag. Dit is administratiefregtelik verdag. Daar is stewige internasionale navorsing wat die belangrikheid van moedertaalonderrig, ook op gevorde vlak, uitwys. (Hieroor skryf ek op afrikaansbymaties.blogspot.com.) Die US se primêre voedingsgebied is die Noord- en WesKaap, waar die voorkeurtaal Afrikaans is. Drie tersiêre inrigtings bedien kliënte uit hierdie gebied in Engels. Soos die Afrikaanse Taalraad, glo die pro-Afrikaanses dat Afrikaans ‘n vaste staanplek behoort te hê waar Afrikaanssprekendes van alle bevolkingsgroepe in hul moedertaal op tersiêre vlak kan studeer. In die debat in die pers, wend die pro-Engelse faksie hulle nooit tot die taalteorie nie, want hulle het geen taalteoretiese grond om op te staan nie. Argumentum ad hominem is die voorkeurwapen. Telkens word die pro-Afrikaanses gestigmatiseer as rassiste, apartheidsapologete en ‘n paar kilometers regs van Genghis Khan. Graag konstateer ek dat die raadslede wat besorg is oor die behoud van Afrikaans as onderrigtaal ons algeheel van Dan Roodt distansieer. Daar is in Die Burger berig oor die mosie van sensuur teenoor my, dus stel ek nou my saak. Ek het ‘n brief aan die pers gerig na ‘n buitengewone Raadsvergadering, waar ‘n moontlike taalmodel bespreek is. Daar was geen dokumente hieroor vooraf beskikbaar nie, die Raad se eie voorskrifte vir taalmosies is nie gevolg nie, en daar is opdrag gegee vir verdere besprekings. Dus was die aankondiging van ‘n eenparige Raadsbesluit oor dubbelmedium voortydig. Francois Groepe het ‘n mosie van sensuur ingedien en sy redes uiteengesit per (swak) konferensiete-lefoonverbinding. Dit is gesekondeer. Ek is gevra om te reageer en het gesê ek het geoordeel dat die voorskrif in die gedragskode wat die belang van die inrigting vooropstel, belangriker weeg as die dwang om geheimhouding. Ek het dus oortree en ek stel myself onder sensuur. Hierop het die voorsteller onderneem om die mosie terug te trek, so ook die sekondant. Instede daarvan dat die voorsitter dadelik die vergadering vra of hulle die terugtrekking aanvaar, laat die voorsitter ‘n lang, haas onhoorbare betoog teenoor my toe. Ek het uitgeloop uit protes teen ‘n prosedurele vergryp, helaas geen uitsondering nie. Ons het ‘n grondwetlike reg en ‘n morele plig om vir studente van alle rassegroepe wat in Afrikaans wil studeer, dit moontlik te maak om minstens voorgraads hul kursusse deur medium Afrikaans te kan volg. Dr Marié Heese Erkenning: Eikestadnuurs, 2009-06-19 |